SKOOLGESKIEDENIS

EN ALUMNI

Dit is met trots dat ons van ons oud Kempies se prestasies en gebeurtenisse deel. Een keer ‘n Kempie, altyd ‘n Kempie!

‘n Oomblik in tyd…

Simboliek

Die leuse is deur me. E Steyn, ‘n administratiewe personeellid, voorgestel en is positief deur die ouer- en skoolgemeenskap ontvang.

“Daar’s Werk” – dit weerspieël steeds die Kempies se ingesteldheid.

Die woorde is in 1960 deur me. A Smit geskryf en deur mnr. JB van Biljon en me. D le Roux getoonset.

  • Daar is werk vir Kemptonparkers dis ons leuse sonder meer. Ons sal strewe te gehoorsaam aan ons skool se faam en eer. As die vrugtebome uitbot voel ons weer opnuut die gees van die jeug hier in ons harte sal ons almal werksaam wees. Dis ons eie Alma Mater wat ons altyd trou wil dien. In ons hart en gees en lewe op die voorgrond steeds wil sien.

Die woorde is egter in 2002 deur die skoolbestuur aangepas.

  • Daar is werk, dit is ons leuse. En as een staan ons dan saam, Ons sal strewe te gehoorsaam aan ons skool se eer en faam. As die lenteblare groen word, voel ons weer opnuut die gees, van die jeug hier in ons harte, sal ons altyd werksaam wees. Die ons eie Alma Mater wat ons altyd trou wil dien. In ons hart en gees en lewe op die voorgrond steeds wil sien.

Die skoolwapen is in die tweede kwartaal van 1957 deur ‘n graad 12-leerling, Ann Francis, ontwerp. Hierdie wapen het Hoërskool Kempton Park se kenteken geword.

Die wapen bestaan uit ‘n skild wat die Kempies se geloof in die toekoms en in hulself simboliseer. Die boonste linkerhelfte van die skild is uit ‘n ougoudkleurige heuningkoek en ‘n by saamgestel. Dit simboliseer die strewe van die skool om planmatig te werk. Die onderste regterhelfte van die skild bestaan uit ‘n vlieënde, silwerkleurige duif teen ‘n donkerblou agtergrond. Die duif simboliseer vredeliewendheid en verstandigheid.

Aan die bokant van die skild is ‘n geopende boek wat studie en kennis versinnebeeld en om die boek en aan die kante van die skild is ougoudkleurige krulle aangebring.

Die skoolwapen is op 27 November 1961 onthul. Die onthulling is deur mnr. JB van Biljon hanteer. Hy het ook die koper replika van die wapen geskenk.

Die skoolwapen is gedurende 1971 by die Buro vir Herhaldiek geregistreer nadat sekere herhaldiese veranderings aangebring is om aan die vereistes te voldoen. Mnr. WPC Snyders, die hoof in daardie stadium, het dit pragtig verwoord: “Die wapen is nuut getooi soos ‘n vlinder voor sy eerste vlug.”

Die volgende veranderings is aangebring:

  • Die krulle langs die boek en aan die kant van die skild is verwyder.
  • Die boek rus nou op ‘n basis.
  • Die twee helftes van die skild word deur ‘n soliede ougoud-streep geskei wat skuins oor die skild aangebring is.
  • Beide dele se agtergrond is donkerblou met ‘n ougoud by en duif wat daarop aangebring is.

Dit was ‘n vereenvoudigde vorm van die oorspronklike wapen en het groot byval by die betrokkenes gevind.

Die skooldrag was nie altyd prakties nie en sekere aanpassings is oor die jare gemaak. Die seuns het aanvanklik wit hemde en grys lang- of kortbroeke gedra. Die skooldas en baadjie was egter verpligtend en is altyd gedra. Hierdie drag is egter later met ‘n grys safaripak vervang.

Die dogters het donkerblou springjurke, wit hemde, ‘n gestreepte gordel, das, wit sokkies in die somer en lang swart kouse in die winter gedra. ‘n Donkerblou skoolbaadjie met ougoud strepe was verpligtend.

Die springjurk is in 1968 met ‘n rok, gemaak van blou blokkies materiaal, vervang. Hierdie rokke het as “butchers“-rokkies bekend gestaan en is in 1972 deur die matriekdrag as amptelike skooldrag vervang. Die is tans nog die amptelike dogtersdrag.

Tans dra die seuns ‘n grys lang- of kortbroek saam met ‘n goudkleurige langmou- of kortmouhemp. Die kortmouhemp word sonder ‘n das gedra, terwyl die das verpligtend saam met die langmouhemp is. Die leerlinge kan dan kies tussen die dra van ‘n skooltrui, skoolsweetpakbaadjie, skoolwindjakker of die amptelike baadjie. Die leerlingraad dra wit hemde. Die dogters het gedurende beide seisoene ‘n keuse tussen ‘n donkerblou romp of ‘n donkerblou langbroek. Daarby dra hulle donkerblou sokkies met geel strepe. Verder is alle skooldragvoorskrifte ook van toepassing op die dogters.

Strofe oor skoolkleure

Dit is in 1957 deur mnr. JJ Bezuidenhout geskryf. Hy was die visehoof, maar hy het ook as hoof waargeneem :

  • Geklee in ougoud, sierlik geweef in donkerblou, In onsself glo ons vas, Op die toekoms ons vertrou, In wandel, werk en spel, In alle pligte so getrou, Sal ons met kennis verwerf, ook die dure vrede behou, Geluk met al ons werk, Lendene omgord, Bereik ons die merk, Kempton Park Hoër, Wees sterk, Wees wakker, Wees getrou, Daar’s werk.

SLUIT AAN BY ONS
E-POSLYS

Voltooi die onderstaande vorm